Monday, April 16, 2007

Die Stem van Suid-Afrika

Die Stem van Suid-Afrika

Uit die blou van onse hemel,
Uit die diepte van ons see,
Oor ons ewige gebergtes
Waar die kranse antwoord gee.
Deur ons vêr verlate vlaktes
Met die kreun van ossewa.
Ruis die stem van ons geliefde,
Van ons land Suid-Afrika.
Ons sal antwoord op jou roepstem,
Ons sal offer wat jy vra:
Ons sal lewe, ons sal sterwe,
Ons vir jou, Suid-Afrika.


In die merg van ons gebeente,
in ons hart en siel en gees,
In ons roem op ons verlede,
In ons hoop op wat sal wees.
In ons wil en werk en wandel,
Van ons wieg tot aan ons graf.
Deel geen ander land ons liefde,
Trek geen ander trou ons af.
Vaderland, ons sal die adel,
Van jou naam met ere dra:
Waar en trou as Afrikaners,
Kinders van Suid-Afrika.


In die songloed van ons somer,
in ons winternag se kou,
In die lente van ons liefde,
in die lanfer van ons rou.
By die klink van huw'liksklokkies,
by die kluit-klap op die kis.
Streel jou stem ons nooit verniet nie,
Weet jy waar jou kinders is.
Op jou roepstem sê ons nooit nee nie,
Sê ons altyd, altyd ja:
Om te lewe, om te sterwe -
Ja, ons kom, Suid-Afrika.


Op U Almag vas vertrouend
het ons vadere gebou:
Skenk ook ons die krag, o Here!
Om te handhaaf en te hou.
Dat die erwe van ons vadere
Vir ons kinders erwe bly:
Knegte van die Allerhoogste,
Teen die hele wêreld vry.
Soos ons vadere vertrou het,
Leer ook ons vertrou, o Heer:
Met ons land en met ons nasie
Sal dit wel wees, God regeer.

C.J. Langenhoven
vanuit Wikipedia, die vrye ensiklopedie.
Spring na: navigasie, soek

'n CJ Langehoven gedenkseël.
Cornelis Jacob Langenhoven (13 Augustus 1873 - 15 Julie 1932), skrywersname C.J. Langenhoven en Sagmoedige Neelsie, se rol in die Afikaanse literatuur en kultuurgeskiedenis was formidabel.
Inhoud[versteek]
1 Agtergrond en Opvoeding
2 Werk
3 Persoonlikheid
4 Nalatingskap
5 Verwysings
//

[wysig] Agtergrond en Opvoeding
Langenhoven is gebore in 1873 op Hoeko, Ladismith. Hy het later verhuis na Oudtshoorn en uiteindelik hul bekendste burger geword.
Hy wou oorspronklik teologie studeer maar het later besluit op regte. In 1893 verhuis hy na Stellenbosch waar hy aan die Victoria Kollege studeer en hom as advokaat bekwaam. Min is bekend van die tyd wat hy daar spandeer het, net dat hy dit beskryf het as "'n woestynlewe". In 1894 raak Langenhoven verloof aan Helena de Vries, maar haar vader beëindig die verlowing in 1896 omdat Langenhoven te onseker was oor sy lewe en loopbaan.
Langenhoven trou in 1897 met weduwee Lenie van Velden, tien jaar ouer as hy. Hy verwys altyd na haar as "Vroutjie". Hulle het een kind gehad, 'n dogter genaam Engela, wat gebore is in 1901.
Hy praktiseer as 'n prokureur maar gaan later oor tot die joernalistiek. In 1912 word hy redakteur van die koerant Het Zuid-Westen (Nederlands vir "die suidwester"), waar hy sy lewensrigting vind. Hy wy homself daaraan toe om die nuwe taal, Afrikaans, te bevorder. Hy is ook 'n stigterslid van die nuwe Afrikaanse koerant Die Burger en lewer gereeld bydraes onder die skuilnaam Sagmoedige Neelsie.
In 1914 word hy lid van die Parlement van Suid-Afrika waar hy homself verder toewy daaraan om Afrikaans as amptelike taal erken te kry. Hy word agtereenvolgens lid van die Kaapse Provinsiale Raad, die Volksraad en die Senaat.
Langenhoven het aanvanklik skepties gestaan teenoor die moontlikhede van Afrikaans, wat toe nog in sy kinderskoene as skryftaal gestaan het. Hy het egter later 'n vurige voorstander geword van alles wat Afrikaans is en het as skrywer so 'n omvangryke oeuvre opgebou (sy Versamelde Werke beslaan sestien dele) dat hy selfs beskou word as die man wat die Afrikaners leer lees het.

[wysig] Werk
C.J. Langenhoven is mees bekend vir Die Stem van Suid-Afrika wat hy in 1918 geskryf het. Die musiek daarvoor is in 1921 deur M.L. de Villiers gekomponeer. 'n Passasie uit Die Stem vorm vandag 'n deel van die Volkslied van Suid-Afrika.
Behalwe hiervoor, het sy skryfloopbaan amper elke genre aangeraak, van poësie tot spookstories. Hy het verskeie werke in Afrikaans vertaal, onder andere die Rubaiyat of Omar Khayyam. Hy het nuwe Afrikaanse gesegdes geskep en het selfs 'n liefdesgedig (in bogtaal) aan sy hond geskryf.
Langenhoven was instrumenteel in die beweging om Afrikaans erken te kry as amptelike taal, asook as eerste taal in skole in plaas van Nederlands. Afrikaans is in 1925 amptelik in die parlement gebruik, en uiteindelik in 1927 erken as 'n amptelike taal van Suid-Afrika saam met Engels.

[wysig] Persoonlikheid
Langenhoven word beste onthou vir sy humoristiese and satiristiese werke. Hy was 'n veelsydige skrywer wat meesterlike kort prosa en poësie geskryf het. Hy was welbekend vir sy skerp sin en sagte maniere. Hy het 'n denkbeeldige olifant besit genaamd Herrie wat in baie van sy stories verskyn het. Hy het Herrie se naam in 'n klip gekerf langs die N12 snelweg naby Meiringspoort (buite Oudtshoorn) in 1929. Hierdie klip is bekend as Herrie se klip en is 'n nasionale gedenkwaardigheid.

[wysig] Nalatingskap
Die Universiteit van Stellenbosch se studentesentrum is na Langehoven vernoem, en is bekend as "Die Neelsie".
Suid-Afrikaanse filmmaker Manie van Rensburg het in 1983 'n lighartige komedie vir televisie vervaardig gebaseer op Langenhoven se werke. Dit was getiteld Sagmoedige Neelsie.
Die Suid-Afrikaanse Poskantoor het in 1973 'n gedenkseël uitgereik vir die 100-jarige herdenking van Langenhoven se geboorte.
Die plek waar Langenhoven en sy familie gewoon het van 1901 tot 1950, Arbeidsgenot, is vandag 'n huismuseum. [1]
C.J. Langenhoven is in 1932 oorlede aan hartverlamming. Hy was 58 jaar en 11 maande oud.

1 comment:

Anonymous said...

Die koninkryk van die hemele het naby gekom.
God het jou lief. Lees jou Bybel.